AFRIKHAKI 2010 - KURT DARREN - ARNO JORDAAN - 9 APRIL 2010 - THE CLAPHAM GRAND

KURT DARREN (www.kurtdarren.co.za)

Kurt Darren sal vir die eerste keer by AFRIKHAKI sy eie volle solo vertoning in Londen aanbied.  Kurt se enigste ander optrede in Londen was tydens Nelson Mandela se 90ste verjaarsdagviering in Hyde Park gedurende die somer van 2008.  Hier het hy 'n duet gesing saam met Eddy Grant en die verhoog ook gedeel met ander internasionale sterre soos Amy Winehouse, Josh Groban, Queen en Leona Lewis.

Kurt was vir die laaste 3 jaar die top Afrikaanse CD verkoper.  Hy het 2009 afgesluit as Suid-Afrika se algehele top verkoper, wat internasionale verkope insluit. Kurt het onlangs sy nuutste CD, "Beste Medisyne", vrygestel.  Die CD het platinum status bereik nog voordat dit op die rakke beskikbaar was.

Hy is ook geen vreemdeling in die Engelse mark nie, en sy treffer "Standing on the Edge" het vir 'n aantal weke die No 1 posisie behou in Suid-Afrika se treffersparade. In 2009 het hy ook sy eerste Engelse album sedert 1999 vrygestel, "Smiling back at me".  Die verkope van die CD het ook Kurt se gewildheid in die Engelse mark bevestig.  

By die onlangse 2009 Huisgenoot Skoupel, was Kurt weereens die hoofkunstenaar. Sy vertoning het 'n keurspel ingesluit van baie van sy Nr 1 treffers, insluitende "Loslappie", "Staan op", "Hemel of Tafelberg" en "Voorwaarts Mars". Sy groot treffer, "Kaptein", was offisieel die afsluitingslied, gesing deur Kurt en al 39 ander kunstenaars.

Kurt se vertoning by AFRIKHAKI beloof om 'n energieke vertoning te wees wat al sy treffers sal insluit.  Jy is gewaarborg om heel aand op jou voete te wees! Moenie Kurt Darren se vertoning in Londen misloop nie. Kaartjies is nou beskikbaar.